Skaaptrek – ‘n 6-dag sielsverrykende seisoenale trek tussen die Bo-Hantam en Boesmanland
Skaaptrek is ‘n seisoenale begeleide trek met skape op pad na nuwe weiding waar voetstappe en geloof saamvleg. Die pelgrimstog is soos geen ander. Saam met skaap werk, gebeur iets saam skaap trek. Die pad word ‘n pelgrimstog van onderskeiding, waarop kruispaaie oorgesteek word en die horison verhelder.
Skaaptrek is gewortel in die Christelike Camino-tradisie; die tydlose voetslaanpad om bekende weivelde agter te laat en ‘n geloofstap na waar ‘n nuwe landskap ontvou. Skaaptrek vra handewerk en sielswerk. Op die stofpad, om die vuur en in die groep word gegee en geneem, lighartig en diepsinnig.
Willem Fourie, ‘n mede-reisiger, deel sy ervaring in die volgende gedigte.


Registreer jou naam en kontakbesonderhede om die volgende Skaaptrek-kennisgewing te ontvang
Seisoenale Skedule:
- Die somer-Skaaptrek vind plaas in middel-Januarie, en die winter se trek laat in Junie.
- Die trekdatums kan eers ongeveer 4-6 weke voor die trek bevestig word, aangesien reënval die stand van die nuwe weiding bepaal.
- Aankoms en vertrek vanaf Taaiboskraal, ongeveer 15km vanaf Loeriesfontein.
Wat Wag Vir Jou?
- ‘n 100km staptog oor 5 dae deur oop vlaktes en ‘n poort omring deur koppies en kranse. Die stap is teen ‘n gemaklike pas maar vra redelike uithouvermoë en fiksheidsvlakke.
- Dae wat begin en eindig rondom ‘n kampvuur, met moerkoffie, stories, en stilte.
- Plaaslike lekkernye, trekvoorrade, en smake uniek aan die streek.
- Ervaring van sonsopkomste, sonsondergange, en ‘n naghemel soos geen ander.
- Slaap onder die sterre of in ‘n tent — jou keuse.
- Die vryheid van afsondering en stilte – geen beskikbare selfoondekking nie. (Noodgevalboodskappe kan via satellietfoonverbinding en per radio deurgestuur word.)
- ‘n Unieke en onvergeetlike ervaring beperk tot 8 persone, slegs twee keer per jaar.

Wanneer & Waar?
Aankoms: Sondag om 15:00, Loeriesfontein
Vertrek: Saterdag om 09:00 vanaf Bo-Hantam, naby Loeriesfontein
Wat is Ingesluit?
Alle maaltye, trekvoorrade, en tentverblyf
Jou Inpaklys?
- Klere vir alle weersomstandighede, ingesluit reënbaadjie/jas, hoed en sonskerm.
- Stapstewels, of veldlooptekkies.
- Seisoensgepaste slaapsak (kussing word voorsien maar jy kan jou eie bring – klein).
- Goedgekeurde deelnemers sal ‘n volledige inligtingstuk en inpaklys ontvang.
Vertroulikheid en veilige ruimte
Wat in die kring gebeur en gedeel word, bly in die kring. Alle emosies is welkom en sal deur die fasiliteerder begelei en hanteer word.
Grootte en Samestelling van Groepe?
Aansoekers moet aan die kriteria voldoen (persoonlike vraelys en onderhoude, gesondheid en fiksheid). Groepe word beperk tot 8 of minder deelnemers – mans, vrouens en pare is welkom.
Maaltye?
Kontreikos (‘boerekos’) word bedien. Jy is verantwoordelik vir jou eie versnaperinge. Vir veiligheid word geen alkohol op die trekpad toegelaat nie. Stel die organiseerders tydens die aansoekproses in kennis van mediesverwante diëetvereistes en toestande. Die verafgeleë omgewing skep beperkings en is dit nie moontlik om alle vereistes te akkommodeer nie.
Verblyf?
Gedeelde tentverblyf, buitelug stort en toilet in beide die Bo-Hantam en Boesmanland. Matrasse en ‘n klein slaapkussing word voorsien. Indien jy benodig om alleen te slaap – kontak die organiseerder.
Inligting aanlyn byeenkoms
‘n Aanlyn byeenkoms ongeveer 2 weke vooraf word aangebied om die deelnemers te ontmoet, reis- en logistieke reëlings te finaliseer.
Koste
Kontak ons vir opgedateerde pryse.
Voorwaardes
Aansoekers word oorweeg na voltooiing van die registrasiedokumentasie, onderhoude en nakoming van sperdatums. Die fasiliteerders behou die reg van toegang tot Skaaptrek en die please. In die beste belang en veiligheid van die deelnemer en groep kan die fasiliteerders die deelname beëindig.
Kansellasies
Tot twee maande voor Skaaptrek is kansellasies ten volle terugbetaalbaar. Daarna word ‘n 50%-kansellasiefooi gehef.
Indien Skaaptrek op kort kennisgewing as gevolg van uiterste weersomstandighede of ander geldige rede gekanselleer moet word, sal gelde ten volle terugbetaal word.
Borgskap & Skenkings
Bo en behalwe ‘n eie betaling kan ‘n bedrag geskenk word as borgskap vir ‘n genomineerde deelnemer. Die genomineerde moet steeds aansoek doen en slaag. Kontak ons en verskaf die naam/name van diegene wat jy graag sou wou ondersteun.




