Camino Skaaptrek II

Vreemd dat misterie in wye vlaktes se details lê
Misterie, geheime wat jy ken en ook weet dat jy nie ken nie
Wat het ons nomadiese vaders geweet wat ons vergeet het?

In stikdonker gee vuur warmte en lig en stories laat ons lag
En dit is wat ons ken, in die ruimte herken ons sterre en sateliete
En in die swart ruimtes skuil geheime

Aand vir aand word die lag stil en die vuur kwyn
En ons leier haal ‘n verweerde kaartjie uit sy hempsak
En lees: “Die Here is my herder” in verskeie vertalings en vertolkings

En ek wonder oor die herder wat voor loop en agter loop
Saam loop deur die skaduwees en donkertes
Wat ‘n feesmaal by ‘n tafel en feestelikheid om ‘n vuur berei

En ek wonder hoeveel ek weet en nie weet nie
Van die geheim wat nou so oop soos die vlaktes is,
Dat die herder in my is, en hoop soos ‘n vlam in my koue hart laat brand

Hoop wat geboorte gee aan die volgende dag
Hoop wat my in koue laat opstaan
Hoop wat leef in die warmte van die stemme om my

Hoop wat gestalte kry in die heerlikheid van die ver landskap
Hoop wat ek ken en ook nie ken nie
Hoop wat ver is en naby kom en my stilweg infiltreer

En eendag in rumoer en gedruis storm ek verby stilte en hoop
En smag ek na stilweg bly hoop van binne-af.

Willem Fourie