Skaaptrek is dalk nie vir jou nie

Geen ping vir 5 dae nie
Net die kamera op jou foon het werk
Geen badkamer vir 3 dae nie
Koue waai teen jou gesig en deur jou lyf
Met koue hande slaan ons tente op en weer af,
maak ons vuur, kos en klou ons aan warmer koffiebekers
‘n Klompie van ons ontwikkel ‘n hink met ons stap
Kilometers op voete en klippe en polle wat paaie ongelyk maak
Eendag skyn die son, die volgende dra ons reënbaadjies

Elke nuwe dag word ‘n geboorte
Dae groet ons met kleur op die horison
Pasgebore lammers staan nog bloed bevlek by beskermende ooie

Mede-pelgrims praat hartsake
Ons word kamerade in verwondering vir die oopte om
ons Ons oë ondersoek horisonne en plant en klip en blom
Oral ontdek ons majestueuse tonele

Stilte staan statig soos die kokerbome
Stilte bly staan deur ons dekades
Hoeveel geheime leef in wortel en stam en blom?
Stilte groei ook binne in my sponsige bestaan
En laat misterie los

Stilte word gebore in die koue uur voor die son opkom
En verwarm my gemoed as die son boom maak
Stilte wat ‘n hart warm en kloppend hou
wanneer ‘n slaapsak jou maat is terwyl koue druppels op die tent val

‘n Trek word ‘n deurgang, ‘n geboorte, ‘n warm opstaan uit die koue,
‘n terugkeer na jou eie misterie

written by Willem Fourie