“O koud is die windjie en skraal” en “so wyd as die Heer se genade, lê die velde in sterlig” is van my blywende indrukke na die onlange Skaaptrek.
Laat my wonder of Eugène Marais dalk self ook op ‘n Winter-Skaaptrek was toe hy hierdie neergepen het?
Ander blywende herinneringe van die Skaaptrek is die betekenisvolle gesprekke met mede-pelgrims sonder enige tyddruk op die oop pad, ook die knus saamkuier rondom die vuur na die dag se lang trek. Die skape wat baldadig die smaak van die nuwe veld geniet. Die dragtige ooie wat tydens die trek lam. Die pragtige omgewing wat ons uitsonderlik groen inwag. Natuurlik ook Lambert en Elna se warm gasvryheid en stories oor die omgewing se geskiedenis. Die luuksheid om in eenvoud nader aan die natuur te kom…
Deur dit alles kom die besef dat hierdie ‘n ongenaakbare wêreld is en ook ‘n respek vir mense wat hier ‘n bestaan uitbeitel. Ek het groot dankbaarheid vir voorregte wat ek as vanselfsprekend aanvaar.
– Alten