“Wium, wat ís ’n Meta-Coach nou eintlik?” – ‘n vraag wat ek gereeld kry!
Dis ’n goeie vraag — want dis nie ’n algemene term nie.
Laat ek dit op my manier probeer verduidelik:
’n Meta-Coach is ’n spesialis in transformasie — in diep verandering. Nie net van buite af, maar van binne af. Waar baie coaching fokus op doelwitte, tydsbestuur of aksieplanne (die “buiteste”), begin Meta-Coaching met die “binnekant” — met die manier waarop jy dink, betekenis gee, en sin maak van jou wêreld.
Hoe Werk ‘n Meta Coach
’n Meta-Coach kyk saam met jou na:
- Die filters waardeur jy die lewe beleef (jou persepsies, oortuigings, taal en denke)
- Die patrone wat jy oor tyd gevorm het (jou “habits”, reaksies, en selfgesprekke)
- En die manier waarop jy realiteit vir jouself skep (want dit is wat ons almal doen)
Ons neem dit nie net waar nie — ons spieël dit vir jou terug met vrae soos:
“Hoe werk hierdie patroon vir jou?” “Wat beteken hierdie idee vir jou op ’n dieper vlak?” “Wat is die waarde agter hierdie keuse?” Wanneer jy begin verstaan hoe jy dink — nie net wat jy dink nie — dan begin jy beheer neem oor jou innerlike wêreld.
Volhoubare Groei
En dit is waar ware, volhoubare groei begin. Ons werk met strukture van taal, gedrag en betekenis. Ons help jou om nie net nuwe gewoontes aan te leer nie, maar om dit te anker op ’n hoër vlak van betekenis — die meta-vlak.
Dís waar ’n “gewoonte” oorgaan in ’n leefwyse.
Dis wanneer jy nie kan teruggaan na ou denke en ou gedrag nie — want jy is nie meer dieselfde mens nie.
En dieselfde geld vir spanne en organisasies; Individue het gewoontes. Organisasies het kultuur. Beide kan transformeer wanneer ons die onderliggende oortuigings en betekenisse belig en herontwerp.
Meta-Coaching is nie vinnige motivering nie. Dis nie oppervlakkige prestasie-hulp nie. Dis diep werk. Maar dit is ook bevrydend, deurslaggewend, en lewensveranderend.
As jy reg is om nie net anders te doen nie, maar anders te wees, stap ek graag die pad saam met jou.
Wium