Twee kopdokters se soeke na ’n geheim Twee sieletroosters van beroep, Pieter Smit (’n psigiater) en Wium Adendorff (’n lewensafrigter), is besig om alleen in ses skofte die Oranjerivier van sy begin tot sy einde in kajakke te roei, en het pas die vierde skof voltooi. Charles Smith skryf hoe die moordende reis hul uitkyk op die lewe raak. Hulle wil eindelik beter mans vir hul vrouens wees en beter pa’s vir hul kinders.

Twee kopdokters se soeke na ’n geheim

Twee sieletroosters van beroep, Pieter Smit (’n psigiater) en Wium Adendorff (’n lewensafrigter), is
besig om alleen in ses skofte die Oranjerivier van sy begin tot sy einde in kajakke te roei, en het pas
die vierde skof voltooi. Charles Smith skryf hoe die moordende reis hul uitkyk op die lewe raak. Hulle
wil eindelik beter mans vir hul vrouens wees en beter pa’s vir hul kinders.

Twee kopdokters se soeke na ’n geheim Twee sieletroosters van beroep, Pieter Smit (’n psigiater) en Wium Adendorff (’n lewensafrigter), is besig om alleen in ses skofte die Oranjerivier van sy begin tot sy einde in kajakke te roei, en het pas die vierde skof voltooi. Charles Smith skryf hoe die moordende reis hul uitkyk op die lewe raak. Hulle wil eindelik beter mans vir hul vrouens wees en beter pa’s vir hul kinders.
Wium Adendorff en Pieter Smit by ’n stroomversnelling in die Oranjerivier 9,7 km voor die R717-brug oor die rivier.    

Die reis antwoord die roering van ons harte – ‘wild at heart’, ’n avontuur, ’n uitdaging, ons is trots op onsself en saai die saad van avontuur in ons kinders. Kortweg: Leef die lewe.”

Dit is een van die redes hoekom Pieter Smit en Wium Adendorff Suid-Afrika se grootste rivier aanpak. Die meeste van die tyd is hulle stoksielalleen op die Oranjerivier se water.

Smit (57) is ’n psigiater van Hartenbos. Hy is aktief, swem in die see, sweefski, roei, seil, ry fiets en stap. Hy is getroud met Mariet en het drie jong volwasse kinders.

Adendorff (55) is ’n lewensafrigter van Bloemfontein, hardloop ultramarathons (Comrades, SkyRun), wat hou van stap en roei. Hy is getroud met Elizabeth en het ook drie jong volwasse kinders.

Hul is sedert 2000 vriende en het al talle avonture saam aangepak. Dit sluit in reise in Lesotho, Botswana, Mosambiek en in hul hartland. Hulle vertrou mekaar, wat belangrik is op ’n avontuur soos dié een.

Die eerste skof van 230 km van die Oranjerivier het hulle in Oktober 2023 oor vyf dae van Majaphuthibrug in Lesotho tot by die Gariepdam aangepak.

Nóg ’n skof van 215 km – van die Gariepdam na Orania – is van 1 tot 5 Oktober 2022 voltooi en die skof van Orania na Prieska (305 km) is van 25 tot 30 Maart vanjaar geroei. Hulle het pas (van 20 tot 27 September) die vierde skof van 390 km van Prieska na Augrabies voltooi. Dit is 1 140 km wat agter die rug is.
Daar bly nog twee skofte oor om die oorblywende 705 km kaf te draf na Alexanderbaai aan die Atlantiese Oseaan, waar die rivier uitmond.

Hulle het agt tot 10 ure per dag teen so 6 km/h tot 7 km/h geroei. Die kortste afstand wat hulle per dag gevorder het, was 35 km, en die langste 75 km. Die gemiddelde getal roeislae op die laaste been was 30 000 tot 35 000 per dag. Faktore wat die roei beïnvloed, is wind, die watervlak, vloei van die rivier en versperrings, soos stuwalle.

“Hoekom doen ons dit? Dit gaan oor die avontuur en opwinding wat ’n reis soos hierdie meebring omdat dit onwenslik is om dit alleen aan te pak,” sê Adendorff. “Dit gaan oor die skep van gedeelde herinneringe, die viering van vriendskap, ’n getuie van ’n deel van jou lewe. Dit is die behoefte vir ’n pouse en stilte waarin baie gebeur – lang stukke en tye in teenwoordigheid saam, maar alleen – en tyd vir reflekteer en dink.”

Dit gaan ook om in die oomblik te wees: Heeltyd te konsentreer op die water en rivier, om jou gedagtes weg te neem van alle ander dinge en tyd. Groot dele van die reis is daar geen selfoonontvangs nie. Hulle skakel hul selfone in elk geval af.

Dit gaan oor die belewenis van die natuur – son, wind, water, sand en rots, en dier-, visen voëllewe – ’n spirituele ervaring. Om heerlik te kamp op die wal van die rivier, ’n vuurtjie te maak, paddas te hoor, kolganse wat tot rus kom, die naghemel, maan en sterre, om naggeluide te hoor en wanneer jy jou kop neersit, onmiddellik aan die slaap te raak . . .” vertel hy.

Hulle dink ook saam oor hul werk – “mensberoepe” – met pasiënte en kliënte. Hulle besin oor menswees, rolle en die seisoene waarin hulle nou is en gee mekaar eerlike terugvoer.

“Ons herlaai ons energie om te kan deel.”

Stilte is die natuur se moedertaal, my moedertaal.

— Wium Adendorff

‘Om beter mans en pa’s te wees’

Op hul emmerskoplys is om iets buiten die gewone te doen wat die grense toets en skuif, soos om die land se grootste rivier te roei en die grootste berg, die Drakensberg, te voet aan te durf. In die Drakensberg Traverse-stap jy van Lesotho oor die pieke na KwaZulu-Natal.

Hulle wil ook nog ander toere in Afrika onderneem.
“Jy leer jouself beter ken. Wat ek waarneem en ervaar deur die vasbyt en moeilike oomblikke, kan ek terugvoer na my lewe, gesin en werk,” sê Adendorff.

“Dit bied jou die geleentheid om ’n onderskeid tussen onsekerheid oor die onbekende en vrees te tref; om berekende risiko’s te neem en te reflekteer oor toekomstige beter keuses. Om op te klim nadat jy afgeval het en onmiddellik aan te gaan en te probeer bo bly vir die volgende uitdaging.”

Die herinneringe aan die uitdaging gee hom moed om situasies te hanteer en vir die toekoms wat wag. Wanneer dit vir hom betekenis het, gee dit ook betekenis en moed vir ander – veral sy kinders. “Iets van ‘as my pa kan, kan ek ook’.”

“Ons doen dit doelgerig – om te ervaar en te leer – en om terug te keer as beter mans vir ons vrouens en pa’s vir ons kinders.”

Die uitdagings sluit in die wind van voor (hulle moet baie harder roei), mensgemaakte stuwalle (’n veilige plek vind om uit te klim en die kajakke met als binne-in om te dra, wat baie tydrowend is), klipbanke, sandbanke (jy kan jouself vasloop en moet uitklim en die kajak oordra of omdraai en stroomop terugroei) en troomversnellings wat kan maak dat jy omval, goed verloor, seerkry, toerusting laat breek – en dan is jy ver van hulp.

Gevaarlike oomblikke gebeur as jy jou vasloop teen of vasgepen word teen rotse, versperrings (soos takke) tref en in vinnig vloeiende water bo-oor rotse beweeg of in kanale beland waar die spoed toeneem en jy min beheer het, of uitgegooi word in ’n klomp klein stroompies oor klipbanke en beseer kan word – of die toerusting kan skade opdoen.

‘Onpretensieuse vryheid’

Dit is ’n ideale wegbreek uit die stad, sê Adendorff oor hul avontuur. “Om myself te kan oorgee aan die dag en die rivier en die gevoel van onpretensieuse vryheid.
“Jy beleef die ongerepte natuur. Die kolganse en kleintjies wat wegduik onder die water, nuuskierige otters, swerms kolganse, wildemakoue, geelbekeende, byevangers, visvangers, visarende en hul roep, veral soggens vroeg,” vertel hy.
Elke sonsopkoms, sonsondergang en aand onder die naghemel is ’n belewenis. Dit is elke aand se lekkerte om ’n knus kampplek te kry, met ’n kampvuur, van die vuur af te eet (wors en roosterkoek) en diep te slaap.
Elke dag pomp die adrenalien van voor af. Dit is die opwinding van stroomversnellings en die verligting om heel aan die anderkant uit te kom.
Dan is daar die kuier en om oor hartsake te gesels en hul vriendskap te verdiep.
“Dit is ook die gevoel van dankbaarheid dat ek gesond is en in staat om dit te kan doen. Om te kan terugkeer met nuwe rigting, idees en motivering vir my lewe,” sê hy met die merke van die blase op sy hande wat ná twee weke terug in die stad steeds te sien is.
“Saans by die kampvuur sit ons en gesels, ons kyk sterre en kyk en speel met die gedagte van wat beteken ’n betekenisvolle lewe. Hoe lyk rigtingwysers en ankers? Hoe kan ek doelgerig die dag en geskenk van lewe aangryp – carpe diem?”

Dit gaan oor al die l’e om ’n vol lewe te hê, sê hy. Hy noem ’n paar van die l’e om ’n vol lewe te hê: “Live life – wees doelgerig om die dag te ontvang, te leef, te geniet en aanvaar wat na jou kant toe kom. Liefde – vir myself, ander, die natuur en God. Leer – leer en reflekteer doelgerig. Luister – word stil en luister, wat jy nodig het om te hoor, is reeds aanwesig.”

Nóg een wat saakmaak, is “legacy”: “Die storie van my lewe wat my kinders, vriende en die wêreld die lewe maak proe en sal inspireer.”

Die rivier se taal

“Die rivier praat, naby en ver, dag en nag hoor jy hom. Wanneer jy stil word, regtig stil word, is selfs die rimpels van vloeiende water hoorbaar,” vertel Adendorff oor sy spirituele ervaring.

“Stroomversnellings kondig hulself met die hulp van die wind in jou rigting luidrugtig en gelukkig vroegtydig aan. Jou ore waarsku jou teen aankomende moeilikheid. Douvoordag is dit tiptolle en janfrederike wat die naderende dag aankondig, opgevolg deur ’n swetterjoel benoude kolgans- en hadida-krete.

“Die visarend se roepe bevestig ek is hier om te bly, ek is ’n Afrika-kind. Beseerde kolganse en geïrriteerde kiewiete se skelle herinner my ek is ’n pa, ek moet verantwoordelik wees, want ek moet sorg. Ek moet veilig tuis kom om die storie te kan vertel.”

Die nag word ingelui met rasende slaapplek-soekende kolganse, ibisse in V-formasies wat weerkaats op die water, krieke en ballonkeel-paddatjies met reusestemme. En die bedaring van ’n seegedruis soos populierbome deur die wind met rus gelaat word, vertel hy.

“En dan, die grootse stem van die nag – stilte. ’n Stilte waarin ek myself hoor asemhaal, my hart hoor klop, in die verte ’n hond hoor blaf, ’n uil hoor hoehoe, en ’n enkele padda wat nog maat soek. “Stilte is die natuur se moedertaal, my moedertaal.”

■ Adendorff en Smit pak die reis aan met twee kajakke van plastiek omdat glasvesel op die klippe sal breek. Hulle het pakplek vir kos, ’n tent en slaapsakke. Hul kos is koffie en beskuit, ontbytpap, vrug- te, brood, beskuitjies, droëwors, wors en roosterkoek en stroop saans. Hulle gebruik Gaia GPS en Windfinder vir navigasie